"Gevandaliseerde grafte in Bezuidenhout-park" deur FERDI GREYLING [boodskap #52382] |
Fri, 26 October 2001 22:08 |
|
Oorspronklik gepos deur: @home.com
Gevandaliseerde grafte in Bezuidenhout-park
Vir Susan
Winter het die gras geel gebrand
waar die park lê om ou grafte.
Die aand kom lê koud op die land.
Vergete op die park se kant
lê geslagte in dié grafte.
Winter het die gras geel gebrand.
Jy sê lewe het min sin, want
nie eens name bly op grafte
en aand kom lê koud op die land.
Wel, die verlede moet eers brand
voor daad kan vloei uit gedagte.
Winter het die gras geel gebrand.
En tyd móét alle lewe brand
en verdroog tot klip op grafte.
Die aand kom lê koud op die land.
So, sin lê daarin dat jóú hand
Móét krap en breek aan ou grafte.
Winter het die gras geel gebrand
en aand kom lê koud op die land.
|
|
|